Axel Munthe
Axel Munthe | |
|---|---|
Axel Munthe, deur Feodora Gleichen | |
| Gebore | 31 Oktober 1857 Oskarshamn, Swede |
| Sterf | 11 Februarie 1949 Stockholm, Swede |
| Nasionaliteit | Sweeds |
| Beroep | Geneesheer, psigiater, skrywer |
| Bekend vir | Die Dokter van San Michele (oorspronklik in 1929 gepubliseer as The Story of San Michele deur die uitgewershuis John Murray) |
| Eggenoot | Ultima Hornberg (geskei, sonder kinders) Hilda Pennington-Mellor (1876–1967) |
| Kinders | Peter en Malcolm Pennington-Mellor Munthe (saam met Hilda Pennington-Mellor) |
| Ouer(s) | Martin Arnold Fredrick Munthe en Louisa Aurora Munte (née Ugarsky) |
Axel Martin Fredrik Munthe (31 Oktober 1857 – 11 Februarie 1949) was 'n Sweedsgebore geneesheer en psigiater, allerweë bekend as die skrywer van Die Dokter van San Michele,[1] 'n outobiografiese relaas van sy lewe en werk. Munthe was verskeie tale magtig (Sweeds, Engels, Frans, Italiaans) en kon hom ook heel verstaanbaar uitdruk in Duits. Hy het in Swede grootgeword en mediese skool hier bygewoon. Hierna het hy sy studies voortgesit in Parys en sy eerste praktyk in Frankryk op die been gebring. Hy was getroud met 'n welgestelde Engelse vrou en het die grootste deel van sy volwasse lewe in Italië deurgebring.
Weens sy filantropiese gesindheid het hy dikwels die armes gratis behandel en sy lewe by verskeie geleenthede gewaag om mediese hulp te bied in tye van oorlog, ramp of pes. As 'n voorstander van dieregte het hy grond gekoop om 'n voëlreservaat naby sy huis in Italië te skep, gepleit vir 'n verbod op pynlike lokvalle, en self troeteldiere so uiteenlopend soos 'n uil en 'n bobbejaan aangehou, sowel as baie soorte honde. Sy skryfwerk is spitsvondig, amusant en lighartig; hoofsaaklik memoires wat uit sy werklike ervarings put, maar dit is dikwels gekleur met hartseer of droefgeestigheid, en maak dikwels gebruik van dramatiese vryheid. Hy het hoofsaaklik oor mense en hul eienaardighede geskryf, en die swakhede van beide die rykes en die armes uitgebeeld, maar ook diere.
Vroeë lewe
[wysig | wysig bron]
Axel Munthe is gebore in Oskarshamn, Swede, sy familie se tuiste.[2] Sy famile was oorspronklik van Vlaamse afkoms, en het hul in die 16de eeu in Swede gevestig.
Munthe het in 1874 aan die Universiteit van Uppsala begin studeer. Terwyl hy in 1875 in Italië gereis het, het hy in 'n klein boot van Sorrento na die eiland Capri gevaar. Terwyl hy die Fenisiese-trappe na die die dorpie (comune) Anacapri geklim het, het hy afgekom op die huis van 'n kleinboer en die aangrensende ruïne van 'n kapel, opgedra aan San Michele. Hy is onmiddellik betower deur die idee om die ruïne te herbou en dit sy tuiste te maak.
Munthe het medies gestudeer in Uppsala, Montpellier en Parys (waar hy 'n student van Jean-Martin Charcot was) en in 1880 op 23-jarige ouderdom as geneesheer gegradueer. Alhoewel sy tesis oor ginekologie en verloskunde gehandel het, is Munthe diep beïndruk deur professor Jean-Martin Charcot se baanbrekerswerk in neurologie, nadat hy sy lesings by die Salpêtrière-hospitaal bygewoon het. Hy het later 'n uitval met Charcot gehad en die hospitaal verlaat en sy voormalige onderwyser se werk oor hipnotisme as bedrieglik en onwetenskaplik veroordeel.[3]
Ouers en broers en susters
Hy was die jongste van drie kinders, gebore aan die sieklike, outokratiese, vioolspelende, puriteinse, chemikus-vader, Martin Arnold Fredrick Munthe, (#-1877) en sy tweede vrou Louisa Aurora Ugarsky (# - 1878). Die oudste was Anna (geb. 1854), wat twee keer getroud is. Op 21 is sy met die skilder Reinhold Norstedt getroud, waartydens haar blomskilderye in die Nasionale Galerye en ander galerye tentoongestel is. Na Norstedt se dood in 1911 is sy met Frans Siberg, 'n veearts, getroud.
Die tweede kind was Arnold, die toekomstige kunstenaar, skrywer, dramaturg en afgetrede Sweedse vlootkaptein (# - 1927) wat in die Franse Keiserlike Vloot gedien het. Hy het verskeie bekende toneelstukke vervaardig en geskryf, waaronder Magnus Stenbok en Magdalena Rudenskiold [4] en die Mars oor die Belt. Arnold het ook verkeie vlootboeke geskryf, insluitende Karel XII en die Russiese Vloot en die Sweedse Vloothelde-reeks.
Parys en Italië
[wysig | wysig bron]Nadat Munthe gegradueer het het hy 'n mediese praktyk op die been gebring in Parys, waar hy hoofsaaklik lede van die Skandinawiese kunskolonie aldaar gedien het. Hy het bv. 'n Paryse woonstel verhuur aan die Finse skilder Albert Edelfelt en sy vrou.[5] In 1884 reis hy na Napels om mediese bystand te bied tydens 'n cholera epidemie.
In 1887 het hy na Capri verhuis en die Villa San Michele gekoop en met restourasiewerk begin. Hy het baie van die werk self verrig, maar ook gebruik gemaak van die dienste van die plaaslike inwoners, insluitende drie broers en hul vader.
In 1890, toe sy fondse uitgeput is, het hy 'n praktyk begin in Rome wat buitelandse hoogwaardigheidsbekleërs sowel as die plaaslike bevolking bedien het. Vanaf hierdie tydstip het hy tyd spandeer tuusen Rome en Capri.
Koningin Victoria van Swede
[wysig | wysig bron]
In 1892 is Munthe aangestel as geneesheer van die Sweedse koninklike familie. In die besonder het hy as persoonlike geneesheer van die kroonprinses, Victoria van Baden, gedien, en dit voortgesit toe sy koningin-gemalin geword het, tot haar dood in 1930, hoewel dit nie beteken het dat hy voortdurend in diens was nie.
Victoria het aan ernstige brongitis en moontlik ook tuberkulose gely. Munthe het aanbeveel dat sy haar winters op Capri deurbring. Hoewel sy aanvanklik huiwerig was, het sy in die herfs van 1910 na Capri gereis. Van hierdie tydstip af het sy, behalwe tydens die Eerste Wêreldoorlog en vir 'n paar jaar teen die einde van haar lewe, elke jaar 'n paar maande daar deurgebring.
Terwyl sy daar gewoon het, het die koningin dikwels die Villa San Michele besoek om by Munthe aan te sluit vir oggendwandelinge rondom die eiland. Munthe en die koningin het ook aandkonserte by San Michele gereël, waartydens sy klavier gespeel het. Die koningin het Munthe se liefde vir diere gedeel, sy het self 'n troetelhond besit en sy pogings ondersteun om Mount Barbarossa te koop om dit as voëlreservaat te vestig. Miskien onvermydelik, gegewe die klein plaaslike bevolking en hul hegte vriendskap, is daar beweer dat Munthe die koningin se minnaar was, maar dit is nooit gestaaf nie.
Die jong Prinses Maria, wat op versoek van Koning Gustaf V van Swede twee keer by haar skoonmoeder, die koningin, en Munthe op Capri gewoon het, het sy invloed skadelik en sy kragte hipnoties gevind. Jare later het sy beweer dat hy wou hê dat sy op 23-jarige ouderdom sy pasiënt moes wees, dat Munthe fisiese toenadering by haar gesoek het, en dat die afgryse wat sy toe teenoor die Sweedse koninklike familie gevoel het weens hul onbeperkte ondersteuning van Munthe, die hoofrede was waarom sy van hulle gevlug het en aansoek gedoen het vir 'n egskeiding van Prins Wilhelm.[6]
Munthe is daarvan beskuldig dat hy minder geïnteresseerd was in die gesondheid van sy pasiënte as in sy eie gemak en bekendheid, en dat koningin Victoria se reis na, en verblyf in Capri, (sy het maande lank in dié klimaat gewoon) skadelik was vir haar gesondheid.[7]
Ander aanduidings van sy passievolle aard spruit uit 'n romantiese verhouding wat hy glo sou hê met die Engelse sosiale vlinder, Ottoline Morrell, wat 'n aanvang geneem het met hul eerste ontmoeting in Julie of Augustus 1898. Ottoline was op daardie tydstip 'n ongetroude 25-jarige lid van die Londense sosiale toneel. Haar intellektuele en spirituele belangstellings het haar aangetrokke laat voel tot ouer mans soos H. H. Asquith, veral indien hulle 'n reputasie gehad het vir ikonoklasme. Sy en Munthe was aangetrokke tot mekaar, en het daarin geslaag om baie tyd saam deur te bring in Capri.[8]
Huwelike
[wysig | wysig bron]Axel Munthe is op 24 November 1880 met Ultima Hornberg, 'n Sweed, getroud. Hy het haar ontmoet terwyl sy kuns in Parys gestudeer het. Hulle is in die laat 1880's geskei, en in 1892 is sy met 'n Sweedse vervaardiger genaamd Gustaf Richter getroud. In 1893 skenk sy geboorte aan 'n seun, maar sterf twee jaar later in 1895.
In 1907 is Munthe met Hilda Pennington-Mellor (1876–1967) getroud. Hulle het twee seuns gehad, Peter en Malcolm. Daar bestaan 'n anekdote dat toe Munthe Die Dokter van San Michele met sy uitgewer John Murray in die tuin by Southside bespreek het, Murray hom vertel het dat sy voorouer en naamgenoot, John Murray (1778–1843), in dieselfde tuin saam met Lord Byron gesit het om die publikasie van Byron se werke te bespreek.
Gedurende 1910–1911 het Munthe 'n somerhuis met 14 kamers in Swede laat bou as 'n geskenk aan sy vrou. Dit is oorspronklik Stengården (Die Steentuin) genoem, maar staan sedert haar dood bekend as Hildasholm. Dit is tussen bome aan die oewer van die Siljanmeer in Dalarna geleë, en die argitek was Torben Grut, wat ook die Stockholmse Olympiastadion ontwerp het wat gedurende die Olimpiese Somerspele van 1912 gebruik is. Hilda het die huis met 'n Engelse tuin teen die agtergrond van die dramatiese rotsagtige omgewing aangelê, en dit met 17de, 18de en 19de-eeuse kuns en meubels uit Italië, Engeland en Frankryk gemeubileer.
Die gesin het gewoonlik gedurende die somer in die huis gewoon, maar Munthe was meer dikwels by die Villa San Michele.
Eerste Wêreldoorlog
[wysig | wysig bron]Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Munthe 'n Britse burger geword en in die ambulanskorps gedien. Sy oorlogservaringe was die basis vir sy boek, Red Cross, Iron Cross.
Latere lewe
[wysig | wysig bron]
Van 1919 tot 1920 het Munthe, ietwat onwillig, die Villa San Michele verhuur aan die buitensporige sosiale vlinder en muse Luisa Casati. Hierdie tydperk is deur die Skotse skrywer Compton Mackenzie in sy dagboeke beskryf.[9]
Munthe het 'n oogtoestand ontwikkel wat hom uiteindelik feitlik blind gemaak het en veroorsaak het dat hy nie die helder Italiaanse sonlig kon verdra nie. Op daardie stadium het hy vir 'n aantal jare na Swede teruggekeer en Die Dokter van San Michele geskryf (gepubliseer in 1929), wat goed ontvang is, in ten minste 45 tale vertaal is en na bewering een van die topverkoperboeke van die 20ste eeu is.
'n Operasie het sy sig herstel, en hy het nog 'n paar jaar in San Michele deurgebring voordat hy in 1942 na Swede teruggekeer het. Hy het die laaste jare van sy lewe as 'n amptelike gas van die Koning van Swede deurgebring.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Munthe se seun, Malcolm Pennington Mellor Munthe, agter Duitse linies in besette Skandinawië gewerk. Hy het later deelgeneem aan die Geallieerde inval by Anzio. Hy is ernstig gewond tydens die oorlog.
Munthe is op 91-jarige ouderdom in die Stockholm-paleis oorlede. Sy liggaam is veras en die as is in die Noordsee gestrooi. 'n Gedenkplaat ter ere van Munthe is aangebring in die Protestantse Begraafplaas in Rome.
Mediese uitkyk
[wysig | wysig bron]Munthe het probeer om voorskrifmedikasie vir sy sielkundige gevalle waar moontlik te vermy, en het dikwels hipnose, musiek en alternatiewe mediese benaderings aanbeveel. Hy was periferaal betrokke by Louis Pasteur se soeke na 'n entstof vir hondsdolheid. Hy het genadedood bepleit vir hopelose mediese situasies soos hondsdolheid, waar die pasiënt veroordeel word tot die vooruitsig van intense pyn en geestelike angs.
Publikasies
[wysig | wysig bron]Die Dokter van San Michele oorskadu Munthe se ander publikasies en sluit materiaal uit sommige vroeëre werke in. Sy vroeëre werk kan baie moeilik wees om te vind en behaal dikwels hoë pryse.
Afgesien van sy doktorale tesis, het sy eerste publikasies bestaan uit verslae van sy reise wat in die koerant Stockholms Dagblad verskyn het en wat sy ervarings van noodlenigingswerk tydens die cholera-epidemie in Napels beskryf. Hierdie artikels is in 1887 gepubliseer en in Engels vertaal deur Maude Valerie White.[10] Die tweede uitgawe van 1899 is deur Munthe self vertaal.[11]
Vagaries is die eerste keer in 1898 in Londen gepubliseer. Dit is hernoem na Memories and Vagaries in 'n tweede uitgawe wat in 1908 gedruk is. In 1930 was daar 'n derde uitgawe, met 'n bygevoegde voorwoord en 'n verskillende seleksie van verhale in 'n veranderde volgorde.
Munthe se herinneringe aan sy tyd in die ambulanskorps, Red Cross, Iron Cross, is anoniem gepubliseer – "deur 'n dokter in Frankryk" – in Londen in 1916, met alle opbrengste wat aan die Franse Rooi Kruis geskenk is. 'n Tweede uitgawe, met Munthe wat erken word as die skrywer daarvan, is omstreeks 1930 gepubliseer.
Publikasies in ander tale
[wysig | wysig bron]- Små Skizzer, Stockholm, 1888
- Bref och Skizzer, Stockholm, 1909
- Letters From A Mourning City is in 1885 in Sweeds gepubliseer en in Italiaans in 1910.
- Dit wil voorkom asof Memories and Vagaries onder baie verskillende titels in ander tale verskyn het; een kan byvoorbeeld rofweg vertaal word as 'n Ou Boek oor die Mensdom en Diere.
Nalatenskap
[wysig | wysig bron]
Munthe is in 1949 op 91-jarige ouderdom in Stockholm oorlede. Verskeie van sy eiendomme is nou museums en kulturele sentrums. Hy het die Villa San Michele aan die Sweedse nasie nagelaat, en dit word deur 'n Sweedse stigting onderhou. Die kompleks funksioneer as 'n kulturele sentrum, waar konserte gehou word en dien as gasheer vir besoekende Sweedse skolastici en die plaaslike Sweedse konsulaat. Die stigting onderhou ook die Mount Barbarossa-voëlreservaat, wat meer as 55 000 vierkante meter beslaan.
In 1980 is 'n stigting (Stiftelsen Hildasholm) gestig om na Hildasholm, die Munthes se Sweedse huis, om te sien. Malcolm Munthe het die huis en die kuns en antiekware wat dit bevat, aan die stigting geskenk, wat dit as 'n museum bedryf. Dit is in 1988 as 'n historiese gebou aangewys en het tussen 1995 en 1999 uitgebreide restourasie ondergaan. Benewens toere, bied die museum kunsklasse en konserte aan.
Malcolm Munthe het 'n groot deel van sy lewe na die Tweede Wêreldoorlog spandeer aan die opknapping van die familie se twee herehuise in Engeland. Sy kinders het die Pennington-Mellor-Munthe Charity Trust gestig wat beide Southside en Hellens Manor onderhou en as museums bedryf en ook kulturele geleenthede soos konserte, lesings en literêre geleenthede aanbied. Lede van die familie woon steeds soms daar.
Daar was ten minste twee internasionale simposiums oor Munthe, die tweede is op 13 September 2003 by Hildasholm in Leksand, Swede, gehou. Sprekers het dr. Ian McDonald, Levente Erdeos (argitek en voormalige kurator van San Michele), die Sweedse skrywer Bengt Jangfeldt, dr. Peter Cottino (van Capri), Mårten Lindståhl, dr. Katriona Munthe-Lindgren en professor Alden Smith van die Departement Klassieke Studies aan Baylor-universiteit ingesluit.
Munthe was die onderwerp van 'n 1962-biografiese rolprent, Axel Munthe, der Arzt von San Michele, wat gebaseer is op sy memoires.
Pryse en toekennings
[wysig | wysig bron]
Erekommandeur van die Royal Victorian Order
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Die werk is uit die Engels in Afrikaans vertaal deur Cas Vorster as Die Dokter van San Michele, uitgegee deur Afrikaanse Pers-Boekhandel (APB).
- ↑ Gustaf Lorentz Munthe; Lorentz Munthe; Gudrun von Uexküll (1953). Buch von Axel Munthe. English. John Murray. p. 9.
- ↑ Die verhaal van Axel Munthe deur sy neef Dr.Gustaf Munthe en die Barones Gudrun Uexkűll. Gepubliseer deur John Murray, eerste uitgawe 1953
- ↑ "Magdalena Charlotta Rudenschöld". geni_family_tree. Besoek op 19 September 2018.
- ↑ Vainio-Kurtakko, Maria (2022). Ett gott parti : Scener ur Ellan de la Chapelles och Albert Edelfelts liv (in Sweeds). Svenska litteratursällskapet i Finland. ISBN 978-951-583-557-4.
- ↑ Lennart Bernadotte in Käre prins, godnatt! ISBN 91-0-041935-4 pp. 155-158
- ↑ Sir Gustaf von Platen in Bakom den gyllene fasaden Bonniers ISBN 91-0-058048-1 p 114
- ↑ Sandra Jobson Darroch, Ottoline: The life of Lady Ottoline Morrell (1975), hoofstuk 2
- ↑ Infinite variety: the life and legend of the Marchesa Casati deur Scot D. Ryersson, Michael Orlando Yaccarino. Drukpers van die Universiteit van Minnesota, 2004 – Biography & Autobiography – 233 bl.
- ↑ Munthe, Axel (1887). Letters From A Mourning City (Naples, Autumn, 1884). Londen: John Murray.
- ↑ Amazon Standard Identification Number (ASIN) B00087WVNO.
Verdere leesstof
[wysig | wysig bron]In Engels
[wysig | wysig bron]- The Story of Axel Munthe deur G. Munthe en G. Uezkull (1953)
- The Story of Axel Munthe, Capri and San Michele deur A. Andrén (met andere, 1959)
In ander tale
[wysig | wysig bron]- Boken om Axel Munthes San Michele, Levente A S Erdeos, 1999. ISBN 91-7203-342-8
- En osalig ande: Berättelsen om Axel Munthe, Bengt Jangfeldt, 2003. In Sweeds. Engelse vertaling deur Harry Watson (Axel Munthe: The Road to San Michele), 2008. ISBN 978-1-84511-720-7.
Rolprente
[wysig | wysig bron]- Axel Munthe, der Arzt von San Michele, geregisseur deur Rudolf Jugert, met O. W. Fischer (as Axel Munthe), 1962.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]| Wikiquote het aanhalings in verband met Axel Munthe |
| Wikimedia Commons bevat media in verband met Axel Munthe. |
- Hildasholm, Munthe se tuiste in Swede
- Villa San Michele, Munthe se tuiste op Capri
- Capri Review Magazine artikel oor koningin Victoria en Munthe
- Southside House
- New York Openbare biblioteek se katalogusblad vir Letters From A Mourning City
- Uitgawes van "From a Mourning City"
- Werke deur Axel Munthe by Project Gutenberg
- Werke deur of oor Axel Munthe op die Internet Archive